Hoe vertel ek my unieke kind van die feite van die lewe?
deur Hettie Brittz
Dekades gelede is alle kinders oor dieselfde kam geskeer, gedissiplineer en gemotiveer. Vandag weet ons dat elke kind uniek is en so ook moet jou manier van benadering wees wanneer jy hom/haar die feite van die lewe vertel…
Sommige kinders wil weet, maar kan eenvoudig nie die moed bymekaarskraap om te vra nie. Kinders van ‘n ander stoffasie storm huis toe van die kleuterskool af en vra: “Mamma, my maatjie het ‘n kondoom op die veranda gekry. Wat is ‘n veranda?” Alles klaar uitgewerk vir hulleself! Hoe sal jy of ek nou weet wanneer om so ‘n brawe ontdekkertjie voor te spring en eerder alles self smaakvol te verduidelik, en wanneer om vir die een of ander teken van gereedheid te wag?
Die skaam, stil soort wat net wil verdwyn wanneer ek en jy inskuiwe vir die groot gesprek, is een van twee “boompies”- sierboompies of denneboompies, noem ek hulle. Hulle is meer inkennig, maar om te onderskei tussen die twee, vra jouself af of jou kind net uitdrukkingloos bly sit en so styf word (bes moontlik ‘n denneboompie) of sommer bloos en benoud lyk (dalk ‘n sierboompie).
Sierboompies wil regtig graag inligting hê, en hou baie daarvan as dit nie te persoonlik raak nie. Bly by feite, wys prentjies, lees ‘n boekie en gee soos die tyd aangaan nog inligting – al vra hulle nie daarvoor nie. Dis die kinders wie se honger vir die feite hulle baie maklik na ‘n onsmaaklike boek of maatjie toe kan neem – iets wat ons ten alle koste wil vermy. Maak asof jy baie gemaklik met die onderwerp is. Roer dit aan wanneer julle aan tafel, in die kar, in die bad of in die kamer met slaaptyd ‘n geselstydjie het. Pasop vir bloederige detail, want hulle word maklik bang. Vra gerus vragies om te sien hoeveel jou sierboomkind verstaan, bv. “Hoekom dink jy wil Jesus hê ons moet eers met mekaar getroud wees voordat ons babatjies maak, al kan ons lyfies dit al doen as ons twaalf jaar oud is?”
Denneboompies – die ander skaam spesie – is regtig nie mal oor stringe feite nie. Hulle beleef dinge as veilig of onveilig, mooi of lelik, naby aan hulle of ver en dus niks met hulle te doen nie. Maak dus jou sekspraatjie baie veilig, en praat veral oor gesin en familie en hoe graag julle babatjies wou gehad het en só bly was oor haar toe julle uitvind julle verwag haar. Gebruik minder vrae en eerder ‘n paar veilige stellings: “Ek dink jy sal ook eendag ‘n mamma wil wees. En jy sal sekerlik ‘n babatjie wil maak saam met ‘n pappa wat baie lief is vir jou en oulik gaan wees met babatjies, nè?” Hierdie gesprek moet verkieslik lekker natuurlik vloei uit ‘n stukkie gehaltetyd soos die saam die deurblaai van die baba-album met haar sonarfototjie’s in. Die meer uitgaande outjies noem ek roosboompies en palmpies.
Palms is mal oor alles wat mense laat giggel of bloos, is mal oor praatjies onder die belt en tel vloekwoordjies makliker op as ander – vir effek! Ons wil hulle teen hulle eksperimenterende aard beskerm wanneer dit by seks kom, dus moet ons seker wees hulle besef die implikasies van die wonderlike potensiaal wat in hulle lyfies opgesluit is. Ek sal mooi kort verduidelik (hulle kan nie lank na vervelige stories luister nie) en dalk sommer met hulle klei speel en al die nodige anatomie-komponente bou – ‘n babamagie wat amper soos ‘n swaeltjie se nessie met sy “tonneltjie” lyk en ‘n saadplantertjie”. En dan sommer mooi verduidelik dat Jesus hierdie wonderlike gereedskap mooi tussen ons beentjies en onder ons klere gesit het sodat dit privaat bly. Palmpies meet dinge aan lekker en sleg, so mens gaan met hulle later maar eerlik moet wees oor die lekker hiervan, sodat hulle nie die feit dat dit reg en lekker voel verwar met dat dit gevaarlik buite die huwelik is nie.
Roosboomkinders sal uitvind wat hulle wil weet en kan nogal beheer oor hierdie gesprekke neem en jou sommer stilmaak as hulle nie lus is vir praat nie, of met jou baklei “Is nie! Babatjies kom van Liewe Jesus af” Hulle moet nie te dierbaar en sentimenteel benader word nie – kernfeite en dan: “Het jy enige vrae?” Hulle sal vra en sal nog soms vra dat hulle bewyse ook wil hê! So, maak maar seker jy het ‘n goeie boekie daaroor byderhand. Die kanse is uitstekend dat hulle die groot vraag gaan vra voordat by jou vere mooi kan regskud, want hulle is nogal grys vir hulle ouderdom!
Maak net seker in al jou vertellings, ongeag jou kind se aard, bly jy by die kern dat elke kind deur God beplan word en dat seks die wonderlike manier is waarop God mense op hierdie aarde sit. Dat elke kind deur God uitgedink is, is belangriker as die biologie. En die meganika, soos posisies, ereksies en orgasmes, kan maar baie later eers aan die beurt kom!