Blog

Hoe gemaak as daar ‘n “ander huis” is?

deur Hettie Brittz

Hierdie vraag is een van die moeilikstes vir my om te antwoord omdat ek dit net met kopkennis en nie uit ervaring kan doen nie.

Ouers wat met sukses kinders in twee huise groot maak, het wel ’n paar dinge gemeen:

  • Hulle voer gesprekke met mekaar oor wat vir elke gesin belangrik is (waardes) en doen moeite om te weet wat die ander huis se kultuur (norme) is.
  • Hulle is ekstra verantwoordelik met voorskoolse kinders in hulle vormingsjare omdat konsekwentheid dan noodsaaklik is.
  • Hulle hou mekaar vrywillig op hoogte van hoe hulle roetines en ontspanning, sosialisering, sakgeld, slaaptyd en eetgewoontes hanteer omdat dit die ses sleutelgebiede is waarop die norme kan bots.
  • Hulle val nie die ander huis se norme en waardes aan nie, maar interpreteer dit wel vir hulle kinders, met woorde soos: “Vir hulle is dit nie so belangrik wat julle op TV sien nie (waardes), solank julle gelukkig is en vir hulle tyd gee om ook te ontspan. Vir ons is dit belangrik dat julle op gesonde maniere ontspan (waardes), selfs al beteken dit ons kan dan nie ontspan nie, omdat ons dit vir julle moontlik moet maak. Dis maar soos die verskil tussen die huis en die skool. By die skool is daar perde as jy twee minute laat klas toe kom. Maar dit is glad nie by die huis ’n probleem as jy twee minute na inkloktyd opdaag nie. Ons is ’n bietjie meer toegeeflik. Ons waardes verskil, want verskillende dinge werk vir ons. Jou werk is om self seker te maak dat jou keuses, of dit nou voor hulle TV of in ons agtertuin gemaak word, goed is vir jou gees.”
  • Hulle respekteer norme en waardes in die ander huis, solank dit bedoel is om kinders op te bou, al stem hulle nie noodwendig saam nie: “Ons weet hulle verwag julle moet na hulle kerk toe gaan al dink ons nie dis sinvol nie. Hulle laat julle beddens opmaak terwyl julle dit nie hier hoef te doen nie. Ons hoor julle daaroor kla, maar dit is daardie huis se reëls en dit moet gerespekteer word. Jy mag eerbiedig vra watter waardes hulle graag vir jou daardeur wil leer. Hulle sal dit beter kan verduidelik.”
  • Hulle hou, met kinders wat oud genoeg is, weerbaarheidsgesprekke* om hulle te help om te sien watter norme en waardes agter potensieel skadelike gedrag steek: “Hoe dink jy sal jou houding teenoor onderwysers verander indien jy elke naweek luister na jou stiefma se vertellings van wat eintlik in die personeelkamer en hoof se kantoor afspeel? Jy mag haar nie stilmaak nie, maar hoe kan jy die slegte invloed daarvan op jou voorkom? Kom ons dink saam aan maniere.”
  • Hulle maak dit nie die kind se verantwoordelikheid om die ander huis se waarde- of normstelsel te gaan verander nie. Dis ’n onregverdige las.
  • Hulle gebruik nie die kinders as afluisterapparate en verspieders in die ander huis nie.
  • Hulle gebruik nie die verskille in finansiële status teen mekaar nie. Die meer welaf gesin gebruik nie geld om die kinders se lojaliteit te koop nie en die minder gegoede huis insinueer nie dat dit vir die welgestelde huis alles net oor geld gaan nie. Albei sou onregverdig wees.

Die feit dat beide ’n ma en ’n pa se optrede ’n kind se normomgewing bepaal is eintlik baie positief want navorsing wys ons dat ma’s en pa’s nie dieselfde invloed op kinders se waardesisteem uitoefen nie. Phyllis Tyson wys byvoorbeeld daarop dat pa’s se voorbeeld ten opsigte van die hantering van die lewe buite die huis die grootste invloed het op kinders se norme en waardes ten opsigte van werksetiek, wetsgehoorsaamheid, eerlikheid en integriteit in finansies, en dies meer, terwyl Ma se optrede en opvoeding die grootste impak maak op kinders se interpersoonlike waardes en norme soos lojaliteit aan die gesin, konflikhantering, respek, bedagsaamheid, hulpvaardigheid, deernis en toewyding.

*Meer inligting oor weerbaarheid is beskikbaar op die SELF-HELP RESOURCES bladsy onder die opskif: “Resources to build Resilience”

Similar Posts