“Mammas mag maar” potgooi reeks

Liewe Mamma

Al sou die kinders skree of kerm en al sou die wêreld vinger wys na jou manier van ma-wees, kan jy maar seker weet jy mag eintlik foute maak, jy mag tussen skietgebedjies deur bewe, jy mag ouer word en met jouself genade hê. Die Here maak self ook ongehoorsame kinders groot. Hy het sekerlik tye wat Hy sy kinders met ‘n skaterlag geniet, net soos ek en jy. Hy verstaan dus alles van die vreugdes en frustrasies van ma-wees. Hy wil jou deur hierdie boodskappies bemoedig, beloon en bemagtig om elke nuwe ma-wees-dag moedig aan te pak.

Omdat ek self ma is van drie kinders, en elke jaar met soveel mammaharte en oumaharte die heilige grond van ma-wees deel, kom hierdie boodskappe met ‘n stywe drukkie. Net ons wat ma’s is sal weet hoe nodig ons almal genade het!


Groete
Hettie Brittz