VRAE WAT PLA
Is jy nog besig om jou kind se boomspesie te leer ken?
Hettie Brittz antwoord ‘n paar tipiese vrae wat ouers vra.
Vraag:
Verstaan ek dan nou reg dat palmboomtieners nie juis na ‘n mens luister nie, maar eerder alles beproef en daarom baie in die moeilikheid beland? Ek wil nie graag sien dat my kind heeltyd uit pynlike foute leer nie. Is daar dan geen ander manier nie?
Antwoord:
Pynlike ervarings is ongelukkig die vernaamste manier waarop die meeste palmboompies leer. (Selfs die groot palmbome luister nie graag na ander nie …)
Daar is wel nog ‘n kragtige manier en dit is deur die voorbeeld en vertellings van hulle rolmodelle. Palmboompies is navolgers van sterk figure en het gewoonlik helde of rolmodelle met wie hulle baie sterk identifiseer. Hulle sal eerder luister wanneer hul gunsteling YouTuber, TikTok influencer of ‘n vriend se ouer broer hul eie foute, met dwelmmisbruik, by voorbeeld, bespreek as wanneer hulle ouers daaroor wil praat. Omdat hulle portuurgroep so ‘n groot rol speel, sal hulle ook makliker die implikasies van seksuele aktiwiteit verstaan wanneer ‘n tiener wat swanger geraak het haar stryd met hulle deel as wanneer hulle gebombardeer word met waarskuwings deur onderwysers, ouers en die media. Strooibiljette oor seksueel oordraagbare siektes gaan heelwaarskynlik in papiervliegtuigies verander word, maar wanneer hulle in ‘n hospitaalsaal sien hoe so ‘n nare siekte sy gang gaan, is die boodskap duidelik. Dit is, in my opinie, ons plig om vir hierdie hardhorende outjies sulke direkte konfrontasies met die harde werklikheid te reël as die lewe dit nie vanself oor hul pad bring nie.
Vraag:
My sierboomdogtertjie se gedrag is soos rituele. Sy eet haar kos in dieselfde volgorde, hou alles in haar kamer op presies dieselfde plekke, pak haar skooltas elke keer op dieselfde manier en wil ook vir my voorsê hoe ek dinge moet doen. ‘n Professionele persoon het aanbeveel dat ek haar kamer skuif, haar roetine verander en haar soms verras, sodat sy nie so rigied moet bly nie. Is dit ‘n goeie idee?
Antwoord:
Hierdie is ‘n moeilike vraag, want as sy alreeds ‘n sielkundige sien kan daar dalk die vermoede wees van OCD (obsessive compulsive disorder) wat nie deur temperament veroorsaak word nie. OCD is ‘n angsversteuring wat gewoonlik behandeling met medikasie, terapie, of beide, vereis. Terapie wat insluit dat sy geleer word om ‘n meer volhoubare vlak van orde en roetine te handhaaf kan voordeling wees, maar aanpassings moet natuurlik stelselmatig en met baie deernis en ondersteuning gemaak word.
Om te sê dat haar optrede rigied is, is sterk gestel. Dit kan ook tekens van perfeksionisme of onbuigsaamheid wees. Sy mag dalk toegelaat word om binne haar persoonlike ruimte dinge te orden soos dit haar pas. Jy hoef egter nie toe te laat dat dit die res van die gesin raak nie, want sy moet verkieslik leer om nie met haar perfeksionisme of rituele die lewe vir ander te kompliseer nie. Wanneer sy vir jou voorskryf hoe jy take moet uitvoer, kan jy baie geduldig antwoord dat jy dinge graag op jou manier doen en dat jy haar ook sal toelaat om haar dinge op haar eie manier te doen. Indien jy wel voel dat sy lesse in buigsaamheid nodig het, stel ek voor jy maak een klein veranderinkie op ‘n slag en ondersteun haar as dit vir haar moeilik is om te hanteer. Mettertyd sal sy leer dat haar vrese oor die ‘chaos’ was sy beleef selde regtig gebeur. Dit is ‘n baie waardevolle les vir sierbome wat mos maar gewoonlik die ergste moontlikheid antisipeer.
Vraag:
Dit voel vir my asof ek niks regkry as ek nie hard met my roosboompie praat nie. Het ek alternatiewe?
Antwoord:
Ons sou roosboompies se dorings graag reeds in die kraamsaal wou afstroop, nie waar nie? Ons kan dit nou nie doen nie, maar ons kan wel een van hulle grootste dorings snoei deur nie hard met hulle te praat nie. Dis moeilik om te volley as die afslaan pap is. As jy dus sag en kalm praat, kap hulle moeilik terug. In plaas van harde woorde gaan ons eerder ferm optrede gebruik – so slaan ons kishoue wat nie teruggeslaan kan word nie. Ons gaan nie met die mond teen ‘n roosboompie wen nie! Hulle tonge is te skerp. Ons kom wel baie ver met konsekwente aksie. Gestel jou tiener het na bedtyd nog ‘n fliek op die selfoon gekyk, sê: “Ons het klaar gesels hieroor. Omdat jy die verkeerde keuse gemaak het, gaan jy ongelukkig gestraf moet word. Jy gaan nou ‘n halfuur vroeër gaan slaap, en die selfoon mag nie saam kamer toe gaan nie.” Voer die straf kalm deur en moenie redeneer daaroor nie.
Raas en skree is nie ‘n straf nie. Dit is trouens vir party roosboomkinders so vermaaklik dat dit selfs belonend kan wees. Dit is ongelukkig ook iets wat jou eie outoriteit ondergrawe. Kinders kan dus nooit raas verdien nie. Hulle kan wel straf verdien. Ek sien dikwels dat roosboompies die straf kies eerder as gehoorsaamheid, omdat hul so eiewillig is.
Vraag:
My denneboomdogtertjie gaan suig altyd haar stokou dummy wanneer ek met haar oor iets geraas het. Sy troos haarself so. Sy is egter nou al vyf jaar oud! Moet ek haar verbied om dit te doen? Sy gaan slaap ook nog met ‘n verflenterde ou teddiebeertjie. Is dit tyd dat ek dit wegneem?
Antwoord:
Jou dogtertjie vind troos in daardie suigaksie omdat dit van babadae af vir haar ‘n gevoel van geborgenheid gee. Babatjies assosieer dit met die kalmerende effek van die borsvoeding of die oksitosien (kalmerende hormoon) wat afgeskei word wanneer hulle voed. Daar is geen rede om dit van haar weg te neem nie. Die meeste kinders ontgroei hulle fopspeen teen 7 jaar, indien nie heelwat vroeër nie. Sy sal self later te groot voel om dit te doen. Tot dan kan dit probleme veroorsaak as jy die “troos” wegneem, want sy sal dit met iets anders moet vervang – gewoonlik iets ewe onaanvaarbaars of ergers, soos naelbyt of duimsuig. Dummies is deesdae so ontwerp dat dit nie skade aan die ontwikkeling van die mond en tandjies veroorsaak nie, en daarom ‘n beter opsie as klere of vingers suig.
Haar teddie is om dieselfde rede nog vir haar belangrik. Teddies het die manier om eendag weg te raak of êrens agter te bly. Wag maar vir daardie dag. Neem jy die teddie weg, gaan dit dalk jy wees wat elke nag saam met haar moet bed toe gaan! Troetelvoorwerpe is baie soos ons gunsteling koppie tee wat ons gebruik om onsself te reguleer na ‘n rowwe dag.
Oorweeg ‘n besoek aan ‘n arbeidsterapeut indien jy ander tekens raaksien, soos dat sy sekere sensoriese stimulasie soek of ander dalk vermy. Hul sal jou kan bystaan om te kan onderskei tussen sensoriese afwykings en tipiese denneboomgedrag in ‘n situasie waar hul oorweldig voel.
Indien jy meer inligting oor kinders se troetelvoorwerpe benodig, oorweeg gerus die 30min klankgreep daaroor:
The www.evergreenparenting.co.za website is managed by Lydia Kies and Nanette Oosthuizen – the proud owners of EverGrowth Online. We are licensed by Hettie Brittz to develop digital content with her intellectual property. We dedicate our days to create tools and resources to inspire growth in families.